Nieuws‎ > ‎

MARIA Elisabeth Eybers

Geplaatst 30 nov. 2016 12:44 door Martin Kemperman

MARIA

'n Engel het dit self gebring,
die vreugde-boodskap - en jy het
'n lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret!

Maar toe Josef van jou wou skei
en bure-agterdog jou pla,
het jy kon dink, eenmaal sou hy
die hele wêreldskande dra?

Toe jy soms met 'n glimlag langs
jou liggaam stryk... die stilte instaar.,
wis jy met hoeveel liefde en angs
sou hy sy hellevaart aanvaar?

Die nag daar in die stal - geeneen
om in jou nood by jou te staan -
het jy geweet dat hy alléén
Getsemane sou binnegaan?

Toe vorste uit die Ooste kom
om nederig hulde te betoon,
wis jy hoe die soldate hom
tot koning van die volk sou kroon?

En toen hy in jou arms lê
sy mondjie teen jou volle bors,
het jy geweet dat hy sou sê
toe dit te laat was: Ek het dors!

Toe dit verby was en jy met
sy vriend Johannes huis toe gaan -
Maria, vrou van smarte,
het jy tóé die boodskap goed verstaan?

Uit: "Versamelde Gedigte" (1957)
Comments